Een heel salige langnaweek. Die aanvanklike beplanning was om die langnaweek te gebruik om na Mt Blanc in Frankryk te gaan. Helaas, hierdie langnaweek is omtrent soos Paasnaweek by ons in SA. Die plekke is maande voor die tyd vol geboek en die paaie is erg dol. Na advies van paar kollegas by die werk het ek teen Mt Blanc besluit. Ons moes egter 'n sinvolle alternatief kry en het toe maar op kort kennisgewing besluit op 'n "activity packed" naweek in Durbuy. Die kinders het juis al die afgelope twee weke gekarring hulle wil weer begin kano ry. Die naweek het toe uitgedraai op kamp, stap, fietsry en kano vaart. Klomp ander dinge ook gedoen en het baie pret gehad.
Gelukkig was Chantel weereens haar betroubare self en sy het net betyds slaapplek kon reël by 'n kamp plek met die naam van Fon de Vedeur. Ons het die bus se agterste sitplekke uitgehaal, inflatable kano's, fietse, tente en nog wat alles ingepak en toe die pad gevat na Durbuy. Dis nou eintlik hoe 'n gepakte bus moet lyk! Verlang eintlik terug na die taxi's..... Pops was altyd so die dinges in as ek net kon bly inpak tot daar nie meer plek is nie. My filosofie is mos nog altyd - as daar nog plek is, kan iets ekstra saam - netnou kry ons dit dalk net nodig!

Ek dink ek het al genoem in die verlede - Durbuy word bemark as die kleinste stadjie in die wêreld. Die plek is bietjie "over commercialized" maar tog lekker, daar is miljuisende dinge te doen. Ons was nie heeltemal ingerig soos ons graag wou wees nie, maar het maar gedoen wat ons kon met wat ons gehad het. Ek sal nou maar eers weer so stuk stuk kamp goete begin koop. Lyk my dalk asof die kampery meer gereeld gaan gebeur. Al wat ons gehad het was vier opvoustoele, opvoutafel, slaapsakke en twee twee-man tentjies. Vir die eerste keer in my lewe kamp opgeslaan sonder 'n bier - ek het dit met 'n skok agter gekom toe ek klaar was en terug staan om die hande werk te bekyk. Nogal heel tragies hoor - veral in 'n land soos BE wat bekend is vir sy biere. Chantel het ook so ewe droog aan die einde van die naweek opgemerk dat ons nie een keer gebraai het die naweek nie - braaivleis en kamp is mos maar "battery en torch" in SA...... nou raai wat het ons geëet........... elke dag pasta! Een dag spaghetti bolognaise, een dag drie minuut noedels (dis reg, nie two minute noodles nie,...three minute noodles) en een dag sommer net pasta.
Die kaaskoppe se manier van kamp , met hulle "mobile homes", is nogal heel aardig en ons moet nog maar daaraan gewoond raak. Nie eintlik ons manier van dinge doen nie. Tot 'n "honeymoon couple" gewees wat in 'n motorhome "gehoneymoon" het - ek verstaan die goed se veerstelsel is erg goed!

Die Tannie wat in "charge" is van die kampplek is definitief nie 'n kampkommandant nie - sy is eerder 'n baie onlangse en nabye familielid van Hitler - sy is so bedonnerd soos kan kom en ons was almal bang vir haar. Loop so bak arms rond met 'n sigaret in die mond - een nare gesig - gelukkig het ek nie 'n foto van haar nie! Sy het paar keer op my geskel, ook in die kinders se hare gewees, maar ons laat ons darem nie so maklik onder kry nie. Ek dink meer ons was aan die einde vir haar 'n klippie in die skoen omdat ons nie deur haar ontstig is nie - ek en Chantel het die kinders mooi verduidelik dat ons haar net kan wen deur met haar baie gaaf te wees - die vrou het glad nie geweet hoe om dit te hanteer nie. Ek het dit net die tweede aand so klein bietjie verloor toe ek weer 2 Euro moes betaal vir 'n warm stort (een vir my en een vir Pieter) en daar steeds nie warm water uit die stort gekom het nie.
Die naweek was regtig "well spent" en met die rustigheid het ek en die kinders heel goeie tyd gehad om weer lekker saam te gesels. Die kinders het my erg verbaas met hullle deursettingsvermoë met al die aktiwiteite - dit was berg klim, kano ry, stap, fietsry, visvang en ons het tot een aand yahtzee gespeel net om die brein ook aan oefen te hou. Noem die naweek maar die Bester weergawe van 'n "iron man" kompetisie - wel kompetisie was dit nou regtig nie - daarvoor was ons heel te relaxed en die tyd saam met die kinders puur goud!
Die kano's was nou nie heeltemal skuit-standaard nie, maar dit is goed genoeg vir ons en vir die prys wat ek op e-Bay betaal het, doen hulle die werk uitstekend. Hier is ons besig om die kinders die fynere kunsies van "inflatable canoes" te leer.


'n Tipiese dagtrippie het min of meer so daarna uitgesien:" Eers die kanos op 'n punt gaan aflaai en weer terug gery na die kampplek, dan die fietse in die bus gelaai en gery na 'n ander punt ongeveer 10 km van daaraf. Daar het ons die bus gelos en op die fietse geklim en terug gery na waar die kano's was, die fietse daar gelos en op die kano's gevaar tot by die bus. Dan weer die kano's in die bus gelaai en alles by die kamp gaan aflaai.......... daarvandaan weer terug gestap om die fietse te gaaan haal wat heeldag onder die bome gestaan het, dan weer bietjie sightseeing gedoen met die fietse om net weer later terug te ry kamp toe om reg te maak vir die aand. Op hierdie stadium word dit eers so teen 21:30 donker en is dit glad nie snaaks gewees om tot half nege nog op die fietse te wees en daarna eers kos te begin maak by die kamp nie.

Om elke hoek en draai is daar honderde dinge om te kon doen - mens moes net die verbeelding laat gaan en die inhibisies los - dit was 'n groot tyd. Op die foto hierbo is ons besig op 'n swaai in die rivier, salig en oud word tye - die rivier se naam is die Oerthe, een van die meer bekende riviere in BE.