Dis mos nou hoe gebraaide hoender moet lyk, én nog 'n gekleurde bord kos boonop! Hier is klomp sulke gaslorries (meeste groterige dorpe) wat langs die pad staan, en verkoop dan gebraaide hoender op spit. Overijse s'n is natuurlik die beste aangesien hy ook "spare ribs" verkoop. Dis elke Vrydagaand se ete - of "spare ribs" of hoender.
Vandag toe ons terug ry van die kerk af toe staan daar so 'n lorrie langs die pad - nie die pad wat ons normaal huis toe ry nie, en besluit sommer daar en dan, vandag is weer hoender dag. (Het bietjie laat van die kerk afgekom want ons het daar vasgehaak saam met die onthaal span) Overijse se "kiplorrie" werk nie op Sondae nie en die hele plek is doodstil. Geen plek wat oop is op 'n Sondag nie.... Suid Afrika van so 'n goeie twintig jaar terug!
Ek hoop regtig om nou van hierdie bloggery 'n gewoonte te maak anders kom daar "boggerol" van die bloggery. Ek sien die "links" wat ek gister by die "slideshows" gesit het om na die album in plaas van die "slideshow" te kyk is toe heel onnodig. Al wat mens kan doen is om te "double click" op die "slide show" en dan is mens in elk geval in op die "link" en by die album. Dan kan mens rustig foto's kyk sonder enige gejagery of stellery aan die "slide show".
Hier het nou net 'n vrou en haar dogter aangestap gekom toe ons by die huis stop. Sy stel haar en haar dogter toe voor en vra dat Marché en Pieter tog moet oor kom om van tyd tot tyd daar te kom speel. (Hulle bly so 30 huise af in die straat.) Marché het nou al seker 'n stuk of tien maatjies wat almal in haar portuur groep is wat almal loopafstand van mekaar woon. Ek sidder om te dink wat gaan met hierdie buurt oor so vier/vyf jaar van nou af gaan gebeur met al die tienerdogters.......
Die Bester huishouding is stadig maar seker besig om te besluit om permanent hier te "settle"..... Die Belge is amper 'n nasie soos die boere van ouds. Hulle kyk eers die kat behoorlik uit die boom uit en as hulle dan besluit jy is nie te "bad" nie begin hulle oop te maak en jou toe te laat in hul samelewing. Johan sê annerdag - amper soos 'n neut - klip hard van buite, maar as jy eers binne is, is die mense sag en heel aangenaam. Ek dink ek sal kan oud word in hierdie gemeenskap - soos ek sê - Suid Afrika van so twintig/dertig jaar terug. Dis "great" mense hierdie - sout van die aarde. Die een buurman en sy vrou stap nou die dag twee kilometer om vir Marché by 'n winkel te wag sodat die vrou saam met haar kan klere "shop"! Dit maak mens eintlik bang - weet nie of mens ooit genoeg terug sal kan doen vir hulle nie, al verwag hulle niks.
O ja, met die bloggery - om van die albums te kan afwerk hier is twee van Durbuys, 'n klein dorpie in die Ardenne. Ons was laas naweek vinnig daar om te gaan verken vir 'n kanovaart op die Oerthe rivier. Eers vir die kinders en Chantel geleer hoe om plat klippe op die water te kan gooi.
Ons het regtig nie veel foto's geneem nie want die plek lyk maar half oeserig in die winter. (Steeds pragtig, net al bietjie bederf)
Geen opmerkingen:
Een reactie posten