3Besters
maandag 21 april 2008
Partytjies en dinge
Oor Angus Buchan en golf
Dit was hierdie naweek die Mighty Men Conference op sy plaas - meer as 60 000 manne wat daar was. Ek probeer nou om soveel as moontlik te bekom oor wat alles die naweek daar gesê is, want ek verstaan die Here het kragtige werk weer daar verrig.
Angus Buchan het onder andere gepraat dat mens nie net met vyf minute se stiltetyd regtig vir God sal kan leer ken nie. Hoe waar is dit tog nie! Ons almal weet dit eintlik maar moet elke kort kort weer daaraan herinner word.
Dit was maar een van die temas waaroor Angus gesels het, daar is paar ander temas waaroor hy ook gepraat het en ek kan nie wag om notas daarvan te kry nie.
Ek en die kinders was gistermiddag by 'n golf les gewees in Sterrebeek. Ek het die kinders soontoe gevat want hulle wil miskien begin golf speel. Hulle slaan die balletjie al baie beter as wat hulle een jaar terug gedoen het - en nie asof hulle intussen eintlik enige golf gespeel het nie. Die plek waar ons 'n paar balle gaan slaan het is 'n Golf Academy hier in BE. Die plek se naam is Golflife Center - een van die beginsels van die Akademie is om jou die basiese beginsels van golf te leer en jou dan gedurig, soos jy vorder, altyd te herinner aan die basiese beginsels. Jong, ek moet sê, die beginsel maak nogal sin en het reeds vandag baie gehelp. Vandag se les was gratis en ek dink met die besigheid hou hulle ook maar by die "basics". Eerste les gratis, en nou weet hulle dat hulle die mense "gehook" gaan kry op golf, so dan sal die geld begin instroom! Daar was seker so stuk of twaalf mense vandag saam met ons daar en reeds het daar twee mense ingeskryf vir lidmaatskap. Hierdie manne weet van geld maak hoor!
Hier is paar foto's van die volgende Trevor / Retief / Anika of wie ookal. Die houding is nog nie heeltemal daar nie, maar dis net die eerste les gewees. O ja, die kinders is nie die volgende "wie ook al" nie - hulle is die enigste en beste Pieter en Marché. Vir die eerste keer het hulle rêrig nogal goed gedoen.
Altwee erg besig om te konsentreer..... Marché het 'n "grip" wat menig pro's haar sal beny!
Pieter besig om aandagtig te luister. Die man met die geel sweater se naam is Ricco. Hy is 'n Fin en bly nou so amper vyf jaar in BE. Praat darem Vlaams vlot en lyk asof hy en die kinders nog 'n paadjie gaan stap.
Die "grip" was goed, maar die "swing" van Marché kort nog bietjie werk.
Nou ja. toe ek hierdie kyk in Pieter se oë sien, toe weet ek, hy is nou hooked op golf! Dit was een van daai houe wat maak dat jy weer sal wil terug kom!
Sal kyk hoe dit gaan met die lesse en dalk sal hulle saam kan speel tydens die reunie op Nylstroom.
zaterdag 19 april 2008
Kinders
Ek het lanklaas in my lewe verlang soos hierdie week - miskien omdat ek maar net met die normale roetine dinge besig was by die kantoor - my gedagtes was gereeld by die kinders gewees. Dis nie soos as die rolle omgeruil is - ek is weg en die kinders is by die huis nie - dan kan ek die verlange nogal hanteer, maar hierdie week was nogal erg.
Die kinders kon nie uitgepraat raak oor die week nie - die gebrabbel was "non-stop" vandat ek hulle by die skool opgelaai het. Dit is regtig net eintlik 'n riem onder die hart om te weet hulle ervaar dinge wat hulle gelukkig maak - interessante dinge wat darem die verwysingsraamwerk verbreed. Ek dink hulle is die kinders hier in BE nou al ver voor. In die kort tyd wat hulle hier is het hulle al baie meer gesien en ervaar as wat die meeste van hulle portuurgroep hier ervaar het. Die Belge is maar snaakse mense - kom in 'n groef en dan sukkel hulle om daar uit te kom - eintlik maar dieselfde as ons.
Vat nou as voorbeeld - Naby Den Haag is daar die heerlikste strand - dis so ongeveer 190 km hier van die huis af - Brugge se see is weer so 140 km hiervandaan af - dis waar al die Belge gaan kuier as hulle see toe gaan. Nee wag, kom ek kwalifiseer myself, baie, nie al die Belge nie. En dan moet ek ook bysê - dis my observasie op hierdie stadium - soos wat ek mense beter leer ken is dit moontlik dat ek later tot ander insigte kan kom.
Nou wat wou ek eintlik sê? O ja, dat Brugge se see nie naastenby so feestelik is soos Den Haag se spot nie. Hoekom die mense nie net 50 km verder ry en na 'n lekkerder see toe gaan nie - dit gaan my verstand te bowe. Maar - dis waaraan hulle gewoond is - doen dit nou al vir jare so en so sal dit bly - dis eintlik wat ek wou sê - raak gewoond aan sekere maniere en dan bly daai dinge maar permanent.
Ek laat weet vanoggend vir Jacolette dat ek en die kinders so lekker gekuier het gisteraand - met my tandpyn en al - een moerske pyn wat my half blind maak in die linkeroog..... moes al lankal by die tandarts uitgekom het, maar is te skytbang vir een.
Hier het ek nou gepraat van skyt en ek het gou na Skype "geskip" om weer te chat - wraggies toe praat ons van skuit - soos in bote, kayakke en sulke dinge. Eerste keer in 'n lang tyd wat ek weer hoor iemand gebruik dieselfde bewoording as ek. Ek mis die goue tye van "Piet se Skuit"!
Terug by die kinders - ek wonder soms of ons nie te ongesond lief is vir mekaar nie, ek en die kinders. Kan daar iets wees soos ongesond lief, of te lief vir mekaar? Seker nie, maar dit maak my net bang partykeer om te weet ons is 'n hegte spannetjie, heg gebind deur baie dinge saam, pyn en avontuur. Ons drie is so afhanklik van mekaar, en dit kom net elke keer meer en meer duidelik na vore as iemand weg was vir paar dae.
Maar nou ja, ons filosofeer later. Die son is op en die voëltjies fluit - wou dit eintlik al lankal noem - dis een ding wat my opgeval het hierdie kant - ek het geen wekker nodig nie - klokslag begin mens die voëltjies reeds vroeg hoor fluit - as die voëltjies begin skarrel dan weet mens dis omtrent nog so halfuur voor dit lig word.
"Guess what" is op die spyskaart vir vandag? Aktiwiteite gewys, nie kos nie, man! Hokkie en nogmaals hokkie. Marché moet agtuur daar wees en Pieter so 11:00.
Agtermiddag gaan ons na Willie Oelofse toe - Jeandré verjaar vandag en die kinders het partytjie daar. Die kinders sien baie uit - dis 'n bos partytjie met kompasse, skuilings, klink vir my oorlog, en al sulke dinge. Dis deel van wat België so uniek maak - die bos is teen jou.... en nog belangriker..... die bos is benutbaar, sonder vrees.
Ons laat weet hoe dit was.
woensdag 16 april 2008
Die Milton's
Alle geval - hier is klomp foto's van toe die Milton's hier gekuier het:
http://picasaweb.google.co.uk/3besters/BelgiMiltons08?authkey=yb6DMkbVVrg
zaterdag 12 april 2008
Die Span uit die Woestyn
Die dag breek al grou oor die oosterkim............... of so iets....... eintlik maar net sê, oor 'n uur of wat begin die geskarrel alweer en dan moet ek vir Marché by Chi-Chi's hê want sy is op pad hokkie toe. Speel by 'n plek met die naam van Egnberg, of so iets. Ek moet vir Pieter self later vanoggend Leuven toe vat, want hy speel daar hokkie. Marché was juis gisteraand heel hartseer dat ek nie saam met haar kan gaan vandag nie, nogal moeilik om jouself in twee te split. Pieter het 'n maatjie wat hier geslaap het gisteraand - sy naam is Daniël - ek dink met 'n deelteken - alle geval - die Engelse Daniel - gelukkig is die mannetjie nie rêrig Engels nie - hy is Portugees, want sou hy Engels gewees het sou Pieter nie toegelaat het dat Daniel hier bly nie - die man (Pieter) het mos geen sin in die Engelse nie - die konsentrasiekamp stories was vir hom net een te veel - en die feit dat hulle met die Voortrekker aktiwiteite nog die graffies moes gaan skoonmaak - dit was maar eintlik net die brandyster wat dit vasgebrand het in die geheue - ons mis nogal die Voortrekkers met al die aktiwiteite, die vriende, die samesyn dit was darem heng lekker.
Hier is paar foto's van ons tyd by die Voortrekkers - een of twee foto's ter herinnering aan Oom Hardus en Tannie Trienie se plaas op All Days - goue tye..............






O ja, voor ek vergeet, gepraat van Chi-Chi's, dis nou die local Spur en is Overijse se weergawe van 'n Steakhouse - heel aangename plek en ons het darem al een keer daar gaan eet. Daar is egter genoeg ander plekkies om by te kuier en te eet en mens kom nie regtig by 'n Steakhouse uit nie - dis nie hoog op die prioriteitslys hier nie. Alle geval hier is 'n foto wat ek nou net geneem het toe ek vir Marché gaan aflaai het.
Ek praat nou die aand met Héleen Robbertze (Van der Merwe) oor Google Earth en toe dog ek ek wil graag kyk of ek Google Earth kan intrek op die blog........ wel hier is 'n "spot" waar ons nogal lekker kuier. Overijse se Begintjesbad. Dis 'n binnenshuise swembad met 'n wildwaterbaan (BE se naam vir Supertube)

Heng, great stuff!!! Ek het nie gedink ek sou dit reg kry nie - if your good, your good! Mense, van nou af - weet net, julle gaan toegegooi word onder Google Earth foto's. Plaas van dat ek ginnegaap om te verduidelik waar dit is - "read and look for yourself"! Die wildwaterbaan is die ligblou gedeelte in die middel van die foto - alles binne so 'n tipe glas huis - die lang dak net regs van die ligblou - dis omtrent die restaurantjie en die groot dak regs is 'n olimpiese standaard swembad - die Belge is nogal heel swem bedinges ook - baie lekker.
Nou ja, weer terug by die blog - wat op aarde het al hierdie gebrabbel en dinge te doen met die opskrif hierbo - "Die Span uit die Woestyn"? Absoluut niks - dis nou maar weer net ek wat van een ding na die ander spring en glad nie by 'n punt kan begin nie.
Die Span uit die Woestyn - dis nou die Van Vuurens. Marlene en haar jongspan tweeling, Renier en Annika het hier kom vakansie hou vir 'n klomp dae en dit was een heel besige tyd wat ons gehad het om die meeste van die "been there - done that - dinge" te doen.
Die span het hulleself reguit uit die woestyn binne 'n klomp sneeu vasgeloop. Lentedag hier in BE is amptelik die 21ste Maart, maar toe kry ons wraggies sneeu op 25 en 26 Maart. Hier is paar foto's van die sneeu.
Vir enige een wat die blog gevolg het tot nou - dit het nie rêrig so lank gevat om vir Marché by die hokkie af te laai nie - het ge - "side tracked" geraak met ander dinge, en kom nou eers weer by die blog uit!
Jong, nou dat ek daaraan dink, bogger in elk geval die chronologiese volgorde. Hier is wat ons alles gedoen het - "mentioned randomly".
(Duidelik was ek in Pieter se pad gewees vir hierdie foto!)
O ja, ek was ook daar tussenin gewees - die mees respektabele foto van my wat seker geplaas kan word - hier was ek ten minste nog op my voete gewees!
Die "link" vir al die Snow World" foto's:
http://picasaweb.google.co.uk/3besters/SnowWorldMrt08?authkey=E12pvc0lPDw
Verder was ons nog by Keukenhof ook gewees - dis die blommeplek in Nederland. Die blomme was nou nie van die beste nie, maar dit bly 'n belewenis. Ook sommer daar en dan gesien dat Nederland vir ons veel meer bied as net Keukenhof. Den Haag is nie te ver van ons af nie en is 'n baie lekker "see" om te gaan kuier- Ons sal definitief nou in die somer daar gaan swem - "watch this space".
Jarries se besoek
Verder was daar heel veel dinge om te sien en te beleef en ek moet darem sê: Vir Steven en Miriam moet mens eintlik saamvat na enige plek waar jy gaan in BE - albei van hulle is lopende ensiklopedieë wat alles weet van elke gebou in BE.
Aai tog, ek wou nie eintlik nie, maar hier is 'n nader foto, want mens kan nie die beeldjie mooi uitmaak agter die tralies nie.
Die ineteressantste plek was egter net agter Jeanneke Pis gewees - Delirium restaurant - hier het ek en Jarries uitgevind dat hierdie plek in 2004 opgeneem is in die Guiness book of Records vir die grootste verskeidenheid bier in die wêreld - 2000 van hulle - en raai wat??? Jarries sal moet terugkom BE toe om weer te kom kuier, want ons het nie een daar kon drink nie - die plek was nog gesluit toe ons daar verby is.
Nou ja, omdat Jarries nou nog nie die foto's gestuur het nie kan ek nie nou vir julle die foto's wys van hierdie plek nie. Ek was darem nou al paar keer intussen by die plek en het begin afwerk aan die 2000 biersoorte - ek dink na die laaste aand wat ek, Cliff, Chantel en Margha daar was is daar nog net so sewe wat ons nog nie geproe het nie! Oor die trippie vertel ek later bietjie meer dan sit ek sommer die foto's van daai tyd by - dit was saam pêlle van Chantel wat saam met hul ouers van Northam hier kom kuier het. (Cliff bly in Parys en die familie het vir hom daar gaan kuier - Chantel was ook een naweek daar by hom in Parys)
Nietemin, dit was met erge ontsteltenis wat ek vir Jarries op Schipol moes gaan aflaai - heel onlekker gewees, hoor! Ek hoop regtig om binnekort weer te kan saam kuier.
Aag, what the heck - sommer net sommer, hier is ek en die kinders besig om die wafel te eet by die Grote Mark met Jarries se besoek.
