Seker rêrig hoog tyd dat ek weer begin om die blog te update.
Jarries was toe soos beloof nou die dag hier by ons in BE. Die naweek het aanvanklik wankelrig begin (my toedoen) maar ons het vrek lekker gekuier.
Nou wel, oor die wankelrige begin wat my toedoen was, nie eintlik rêrig my toedoen nie. Eintlik BA se toedoen. Ek het nou 'n beginselbesluit geneem: Pieter Bester vlieg in sy lewe nie weer BA nie. Die laaste drie keer wat ek met hulle gevlieg het, het ek een - my bagasie verloor, twee - daar was twee vlugte direk na mekaar gekanselleer terwyl ek bitter graag by die kinders wou uitkom na ek 'n week uitstedig was en drie - weer 'n vlug gekanselleer toe ek ook bitter graag by die huis wou kom omdat Jarries al vir my by die huis sit en wag het.
Nou kyk, as jy 'n ou wou sien wat rondtrippel soos 'n man wat 'n warm aartappel êrens opgedruk gehad het, dan moes jy my sien op daai Heathrow. Verdomp - hier sit 'n pêl van my by die huis en wag, hom goed 12 jaar laas gesien en weet.... elke minuut se vertraging beteken dat ons minder sal moet slaap want die tyd vir gesels en kuier is baie beperk. Jarries moes nog weer terug Amsterdam toe en dan weer vort Italië toe. (En ek het gedink ek raak so dan en wan bietjie besig.......)
Hulle ( Die Engelse - wil hulle nie eintlik eers by name noem nie) was besig met die inwyding van Terminal 5 op Heathrow - die Queen en almal was daar en ons gewone boertjies moes maar sit en wag dat die gefuif eers kon end kry voordat ons kon huis toe gaan.
Ek het hoeka vroeër daai dag by Windsor kasteel verby gery en toe sê die taxi drywer vir my die vlag is af.................., sommer so heel "matter of factly". Ek sê toe "So....." menende sy pommie waarnemingsvermoë verveel my erg. Toe sê die man - as die Queen nie by die huis is nie, is daar nie 'n vlag wat wapper op die kasteel nie. Min het ek toe nog geweet dat hierdie feit - die Queen wat nie by die huis is nie - tot veel ergernis vir my sou ly.
Kyk, klein Pieter is juis nie te danig met al wat Engelsman is nie, die Boere oorlog het te groot impak op hom gehad. Toe hy nog hoor dis die Queen se skuld dat sy pa laat by die huis is, was dit net een te veel.
Die kuier was hond lekker - ek en Jarries het gesit en gesels tot vroeg oggend - op daai stadium was slaap 'n lastigheid waarsonder ek bitter graag sou wou klaarkom.

Dit was die sonsopkoms die volgende oggend - ons het darem nie heelnag gesels nie - ons het darem intussen al geslaap ook.
Ons het darem tyd gehad om 'n paar plekkies te gaan kyk - hier is mos net markte in elke dorp/stad. Al die plekke het mos maar ontwikkel rondom die gemeenskaplike mark - vandaar al die ou geboue by al die markte. Ek sê nou in laasweek vir mense van Northam se wêreld - en ons dink die Kasteel in die Kaap is oud.
Alle geval - ek spring al weer rond soos kan kom en kan nie by een punt hou en dit eers klaar maak nie - ek het vir Pieter J die Saterdag na een of twee geboue gevat en dit was nogal heel goed. Ek het twee ander pêlle van my gebel, Steven en Miriam Drotské, en hulle het gou saam met ons 'n bier gaan drink in Mechellen.
Dis nou hierdie foto.
Verder was daar heel veel dinge om te sien en te beleef en ek moet darem sê: Vir Steven en Miriam moet mens eintlik saamvat na enige plek waar jy gaan in BE - albei van hulle is lopende ensiklopedieë wat alles weet van elke gebou in BE.

Wel, ek oordryf seker so bietjie - seker nie elke gebou in BE nie, maar definitief elke tweede gebou! Veral die in die Vlaamse gedeelte van BE - sien - Steven is eintlik ook Suid Afrikaner, woon al elf jaar of so hier in BE en is getroud met Miriam, self 'n BE boorling.
Yip, Stefaans se van is Drotské - neef van annerman wat die Cheetahs afrig - vanmiddag gaan hulle alle geval hulle gatte sien op Nuweland teen die Stormers.
Heng, maar dit was great om vir Jarries te sien. Ons het paar Belgiese biere saam deurgewerk en het tot gebraai op regte mopanie wat ek nog van SA af saam gebring het. Ons het ook die normale ding gedoen - wafels en room op die grote mark in Brussels gaan eet en "gepose" vir 'n foto by Mannekin Pis. Dis nou al tradisie hier - almal wat kom kuier moet gaan "pose" vir 'n foto by Mannekin Pis. Ek kan al omtrent een hele album maak net met almal wat saam met ons by Mannekin Pis "gepose" het. Jarries skuld my nog klompe foto's aangesien die meeste van die foto's met sy fancy kamera geneem is. Ek wonder maar wanneer ek dit eendag gaan kry.
Alle geval, hier is die kinders darem daai dag by Mannekin Pis.

Mannekin Pis se storie sal ek ook nog een of ander tyd vertel - daar is eintlik paar stories - weet nie watter een is nou eintlik die een wat die Belge glo nie - alle geval - hierdie beeldjie is die "real Mcoy" wat staan en pieps - nie sommer enige hierjy sementafgietsel duplikaat wat êrens in iemand se tuin staan en die paddavis pond vol hou nie. Hy het die dag klere aangehad, maar later ook meer daaroor - as ek dit nie mis het nie is dit die enigste standbeeld in die wêreld wat oor sy eie "wardrobe" beskik! Ek dink iets soos oor die 300 uitrustings of iets - kan meer ook wees, kan nie meer onthou nie.
Pieter J se besoek was net goed gewees vir ons - met sy besoek sou ek mos agterkom dat die Belge tot ook 'n Jeanneke Pis het - lyk my die span hierdie kant is skoon skuins pieps bedinges. Hier is 'n foto van Jeanneke - sy het nie eintlik iets sinvols om by te dra nie en is eers in 1985 opgerig deur een of ander Belg met 'n sin vir humor. (Belgies)

Aai tog, ek wou nie eintlik nie, maar hier is 'n nader foto, want mens kan nie die beeldjie mooi uitmaak agter die tralies nie.
Die ineteressantste plek was egter net agter Jeanneke Pis gewees - Delirium restaurant - hier het ek en Jarries uitgevind dat hierdie plek in 2004 opgeneem is in die Guiness book of Records vir die grootste verskeidenheid bier in die wêreld - 2000 van hulle - en raai wat??? Jarries sal moet terugkom BE toe om weer te kom kuier, want ons het nie een daar kon drink nie - die plek was nog gesluit toe ons daar verby is.
Nou ja, omdat Jarries nou nog nie die foto's gestuur het nie kan ek nie nou vir julle die foto's wys van hierdie plek nie. Ek was darem nou al paar keer intussen by die plek en het begin afwerk aan die 2000 biersoorte - ek dink na die laaste aand wat ek, Cliff, Chantel en Margha daar was is daar nog net so sewe wat ons nog nie geproe het nie! Oor die trippie vertel ek later bietjie meer dan sit ek sommer die foto's van daai tyd by - dit was saam pêlle van Chantel wat saam met hul ouers van Northam hier kom kuier het. (Cliff bly in Parys en die familie het vir hom daar gaan kuier - Chantel was ook een naweek daar by hom in Parys)
Nietemin, dit was met erge ontsteltenis wat ek vir Jarries op Schipol moes gaan aflaai - heel onlekker gewees, hoor! Ek hoop regtig om binnekort weer te kan saam kuier.
Aag, what the heck - sommer net sommer, hier is ek en die kinders besig om die wafel te eet by die Grote Mark met Jarries se besoek.
Geen opmerkingen:
Een reactie posten