Die kinders is terug van hulle Bosklasse af!
Ek het lanklaas in my lewe verlang soos hierdie week - miskien omdat ek maar net met die normale roetine dinge besig was by die kantoor - my gedagtes was gereeld by die kinders gewees. Dis nie soos as die rolle omgeruil is - ek is weg en die kinders is by die huis nie - dan kan ek die verlange nogal hanteer, maar hierdie week was nogal erg.
Die kinders kon nie uitgepraat raak oor die week nie - die gebrabbel was "non-stop" vandat ek hulle by die skool opgelaai het. Dit is regtig net eintlik 'n riem onder die hart om te weet hulle ervaar dinge wat hulle gelukkig maak - interessante dinge wat darem die verwysingsraamwerk verbreed. Ek dink hulle is die kinders hier in BE nou al ver voor. In die kort tyd wat hulle hier is het hulle al baie meer gesien en ervaar as wat die meeste van hulle portuurgroep hier ervaar het. Die Belge is maar snaakse mense - kom in 'n groef en dan sukkel hulle om daar uit te kom - eintlik maar dieselfde as ons.
Vat nou as voorbeeld - Naby Den Haag is daar die heerlikste strand - dis so ongeveer 190 km hier van die huis af - Brugge se see is weer so 140 km hiervandaan af - dis waar al die Belge gaan kuier as hulle see toe gaan. Nee wag, kom ek kwalifiseer myself, baie, nie al die Belge nie. En dan moet ek ook bysê - dis my observasie op hierdie stadium - soos wat ek mense beter leer ken is dit moontlik dat ek later tot ander insigte kan kom.
Nou wat wou ek eintlik sê? O ja, dat Brugge se see nie naastenby so feestelik is soos Den Haag se spot nie. Hoekom die mense nie net 50 km verder ry en na 'n lekkerder see toe gaan nie - dit gaan my verstand te bowe. Maar - dis waaraan hulle gewoond is - doen dit nou al vir jare so en so sal dit bly - dis eintlik wat ek wou sê - raak gewoond aan sekere maniere en dan bly daai dinge maar permanent.
Ek laat weet vanoggend vir Jacolette dat ek en die kinders so lekker gekuier het gisteraand - met my tandpyn en al - een moerske pyn wat my half blind maak in die linkeroog..... moes al lankal by die tandarts uitgekom het, maar is te skytbang vir een.
Hier het ek nou gepraat van skyt en ek het gou na Skype "geskip" om weer te chat - wraggies toe praat ons van skuit - soos in bote, kayakke en sulke dinge. Eerste keer in 'n lang tyd wat ek weer hoor iemand gebruik dieselfde bewoording as ek. Ek mis die goue tye van "Piet se Skuit"!
Terug by die kinders - ek wonder soms of ons nie te ongesond lief is vir mekaar nie, ek en die kinders. Kan daar iets wees soos ongesond lief, of te lief vir mekaar? Seker nie, maar dit maak my net bang partykeer om te weet ons is 'n hegte spannetjie, heg gebind deur baie dinge saam, pyn en avontuur. Ons drie is so afhanklik van mekaar, en dit kom net elke keer meer en meer duidelik na vore as iemand weg was vir paar dae.
Maar nou ja, ons filosofeer later. Die son is op en die voëltjies fluit - wou dit eintlik al lankal noem - dis een ding wat my opgeval het hierdie kant - ek het geen wekker nodig nie - klokslag begin mens die voëltjies reeds vroeg hoor fluit - as die voëltjies begin skarrel dan weet mens dis omtrent nog so halfuur voor dit lig word.
"Guess what" is op die spyskaart vir vandag? Aktiwiteite gewys, nie kos nie, man! Hokkie en nogmaals hokkie. Marché moet agtuur daar wees en Pieter so 11:00.
Agtermiddag gaan ons na Willie Oelofse toe - Jeandré verjaar vandag en die kinders het partytjie daar. Die kinders sien baie uit - dis 'n bos partytjie met kompasse, skuilings, klink vir my oorlog, en al sulke dinge. Dis deel van wat België so uniek maak - die bos is teen jou.... en nog belangriker..... die bos is benutbaar, sonder vrees.
Ons laat weet hoe dit was.
Geen opmerkingen:
Een reactie posten